Die polisie in Mpumalanga het die publiek gewaarsku om uiters versigtig te wees naby strome water terwyl aanhoudende reën watervlakke laat styg.
Vloed-verwante voorvalle is aan die toeneem, met drie mense wat op 1 Januarie verdrink het.
‘n 19-jarige man is meegesleur toe hy te voet ‘n stroom probeer oorsteek het in Louisville.
‘n Vrou het verdrink toe die voertuig waarin sy was naby Lily Myn weggespoel het.
‘n Tienermeisie het ook in Middelburg verdrink op Nuwejaarsdag.
‘n 27-jarige man word steeds vermis na hy ‘n oorstroomde brug in die Ekulindeni-area probeer oorsteek het.
Intussen is agt mense ongedeerd na die bakkie waarin hulle gery het Saterdag vanaf ‘n laagliggende brug oor die Nkomazi-rivier buite Komatipoort meegesleur is.
Laevelder berig dit is dieselfde brug waar twee soldate Kersdag meegesleur is en verdrink het.
Volgens berigte was die bakkie besig om die oorstroomde brug oor te steek toe die kragtige stroom dit in die rivier ingetrek het.
Al die insittendes kon op hul eie uit die voertuig ontsnap en veiligheid bereik.
Nog reën word vandeesweek verwag.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms oor die meeste dele van Mpumalanga vandag, met ‘n geel vlak 4-waarskuwing wat vir die platorand geld.





