Drie mense is Saterdag oorlede toe ‘n minibus-taxi omgeslaan het op die D799 tussen Kaapsehoop en Mbombela. Die bestuurder het moontlik op ‘n draai beheer verloor.
Drie manlike passasiers is op die toneel dood verklaar. Nog ‘n passasier is kritiek beseer en vier ernstig. Volgens die departement was die minibus van Johannesburg na Mosambiek onderweg en het hy na vermoede die N4 verlaat om wetstoepassers te vermy.

In ‘n afsonderlike voorval is ‘n ma en kind dood op die N12 naby Delmas toe hulle deur ‘n voertuig getref is terwyl hulle die pad oorgesteek het.
Intussen is 88 motoriste sedert 1 Desember aangekeer weens bestuur onder die invloed in Mpumalanga. Volgens die provinsiale Departement van Gemeenskapsveiligheid is sowat 60 van hulle net die afgelope naweek aangekeer en sal hulle na verwagting vandag in die hof verskyn.
Die projekte is rondom Standerton, Mkhondo, KwaMhlanga, Tweefontein en Emalahleni uitgevoer. Die LUR, Jackie Macie, doen ‘n beroep op bestuurders om nie te drink en te bestuur nie.
Verder voer die polisie landwyd oorsigbesoeke uit as deel van sy Veiliger Feestyd-operasies.
Die adjunkminister van polisie, Cassel Mathale, sal vanoggend ‘n oorsigbesoek bring aan Mpumalanga. Dit vind plaas by die polisie se Nkangala-distrikskantoor in Middelburg.





