Ongeluk op N4 eis vyf
Written by Mireille on April 7, 2025
‘n Kleuter tel onder die vyf mense wat gistermiddag in ‘n trompop-botsing tussen ‘n vragmotor en ‘n sedan op die N4-tolpad tussen Machadodorp en Belfast dood is.
Twee mans en twee vroue, almal insittendes van die sedan, is ook op die toneel dood.
Een persoon wat ook in die sedan was, het ernstige beserings opgedoen.
Die bestuurder van die vragmotor is effens beseer.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Jackie Macie, sê dit is betreurenswaardig dat mense hul lewens verloor in ongelukke wat meestal vermy kan word.
Terwyl skole môre vir die tweede kwartaal van die akademiese jaar heropen, word daar van baie mense verwag om vandag te reis.
Macie doen ‘n beroep op motoriste om die reëls te gehoorsaam te midde van die verhoogde verkeersvolumes regoor die provinsie sowel as nat en mistige weerstoestande.
Motoriste word ook versoek om die padwaardigheid van hul voertuie te verseker voordat hulle vertrek.