100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Man wat glo twee kinders in Pienaar vermoor, sterf weens beserings na aanranding

Written by on July 15, 2024

Die 19-jarige verdagte wat verdink word van die moord op twee kinders in Pienaar is die afgelope week in die hospitaal dood, weens beserings wat hy opgedoen het toe gemeenskapslede hom ná die kinders se dood aangerand het.

Die liggame van die driejarige Peaceful Khoza en sesjarige Junior Mabandla is twee weke gelede in vlak grafte gevind.

Sivile Thulare was die kinders se oom.

Woedende gemeenskapslede het sy huis intussen aan die brand gesteek. Hy sou vandag in die hof verskyn het.

Liggaam van driejarige dogtertjie in Pienaar opgegrawe, 5 Julie 13:20

Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Jackie Macie, en die waarnemende polisiekommissaris in Mpumalanga, gen. maj. Zeph Mkhwanazi, besoek vandag die families van die drie slagoffers wie se liggame die week in vlak grafte in Pienaar ontdek is.

Maandagaand is die 37-jarige Bonisiwe Mabuza se liggaam gevind.

Die verbrande lykie van die driejarige Peaceful Khoza is gister in Pienaar opgegrawe.

Sy is Woensdagoggend ontvoer.

‘n 18-jarige moordverdagte word deur die polisie aangehou vir haar moord asook die van Junior Mabandla (6).

Die polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdluli, sê die verdagte is onder polisiebewaking in die hospitaal na hy deur gemeenskapslede aangerand is.

Luister:

Oorskot van vermiste sesjarige in Pienaar gevind, 4 Julie 11:20

‘n 18-jarige wat verbind word met die verdwyning van twee kinders in Pienaar buite Mbombela, is onder polisiebewaking in die hospitaal na gemeenskapslede hom gisteraand aangerand het.

Die polisiewoordvoerder in Mpumalanga, kol. Donald Mdhluli, sê die man het glo teenoor die mense erken hy het met die kinders se verdwyning te doen gehad.

Hulle het die beseerde man by ‘n begraafplaas aangetref omring deur ‘n skare.

Die vlak graf met menslike oorskot is daar naby ontdek.

Die sesjarige Junior Mabandla, wat ‘n maand gelede vermis geraak het, is aan sy klere deur sy familie uitgeken.

Hulle verwag om vandag die oorskot van ‘n driejarige vermiste dogtertjie op te grawe.

Luister:

Mdhluli sê sy is nooit formeel as vermis by hulle aangemeld nie.

Die waarnemende polisiekommissaris, gen. maj. Zeph Mkhwanazi, het die gemeenskap gevra om die reg sy loop te laat neem en dit nie in eie hande te neem nie.

Hy sê die polisie is bekommerd oor soortgelyke voorvalle wat onlangs in die area plaasgevind het.

Lees meer: Saak teen vermeende moordenaars uitgestel tot Aug

“Iets is duidelik hier fout. Ons wil die publiek verseker dat ons orde en stabiliteit sal herstel en het spesiale eenhede ontplooi en ons sigbaarheid in die area verhoog,” sê Mkhwanazi.

Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Jackie Macie, het die publiek geloof vir hul bydrae tot die ontdekking van Mabandla

Hy sê die inligting wat gemeenskappe aan wetstoepassers verskaf is deurslaggewend om boosdoeners vas te trek.

Macie sal na verwagting môre die families van die slagoffers besoek.

Beloning vir inligting oor vermiste seuntjie van Pienaar: 21 Junie, 14:56

Die polisie het ‘n beloning van R20 000 uitgeloof vir inligting oor ‘n sesjarige seuntjie wat al amper drie weke lank vermis word in Pienaar.

Junior Mabandla is die middag van 3 Junie laas gesien toe hy sy ouerhuis verlaat het om ‘n nabygeleë winkel te besoek.

Hy het ‘n blou trui en swart broek aangehad.

Hy is nog nie weer gesien nie.

Die polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdhluli:

Enigiemand met inligting is gevra om speurder AO Vusumuzi Makamo te kontak by 060-774-9660 of 082-433-7210.

Sien ook: Innibos: Wenresep oppi spyskaart vanjaar