Kommer en kommentaar oor voorgestelde wysigings aan wet
Written by 100.5FM Nuus on June 29, 2021
Die voorgestelde wysigings aan die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (Pepuda) loop deur onder fel kritiek.
Die Instituut vir Rasseverhoudinge, Freedom of Religion en politieke partye het dit skerp veroordeel.
Soos wetgewing tans daar uitsien, verplig dit die staat en private partye om nie onregverdig teen enigiemand te diskrimineer nie en om gelykheid aktief te bevorder. Hierdie tweede deel van Pepuda van 2000 is nooit geïmplementeer nie. Beide dele word nou aangepas.
Linda Grimbeek, bedryfshoof van die plaaslike sakekamer, KLCBT, sê die belangrikste veranderinge is dat dit die definisie van diskriminasie verbreed, dit verwyder die vereiste dat jy dit met opset moet doen om skuldig te wees, dit verg ook dat gemeenskapsorganisasies en kerke gelykheid aktief bevorder, en dit maak jou skuldig tot jy onskuldig bewys word.
Daar sal ook ‘n onpraktiese vereiste aan werkgewers gestel word, aldus Grimbeek.
“Jy gaan gevra word om jou werknemers in toom te hou. En nie net by die werksplek nie. Ek weet nie hoe kan dit van jou verwag word nie.”
Vir niewinsgewende organisasies en kerke moet ook ‘n komponent hê waar hulle gelykheid bevorder.
“Hulle is op sigself daar vir sekere geaffekteerde groepe – soos kinders of jongmense of vroue. Hoe gaan ons nou maak?
“Kerke se geloof word benadeel want almal moet dieselfde wees en dieselfde behandel word. Hulle breek gelykheid in essensie af en die wet gaan in konflik wees met homself.
“Selfs die grondwet maak voorsiening waar diskriminasie goedgekeur word. Vryheid van geloof en spraak word nou aangetas.”
Sy voeg by dat die uitgebreide definisie van diskriminasie is vir haar regverdig, maar dit is kommerwekkend dat jy outomaties skuldig is.
“Die definisies is baie logies, maar hoe dit toegepas gaan word, is onregverdig. Ek glo daar gaan baie kapsie daarteen gemaak word. En jy gaan iemand moet aanstel om dit te polisieër. Ek weet nie hoe nie.”
Sy benadruk dat die voorstelle nog nie wet is nie, en dat die publiek tot 30 Junie kommentaar daarop kan lewer – hetsy op die webtuistes van die parlement, departement van justisie en organisasies soos Dear SA.