Verdagte doodgeskiet tydens ontvoering in Barberton
Written by Mireille on January 6, 2025
‘n 35-jarige man verskyn vandag in die Barberton-landdroshof weens die roof en ontvoering van ‘n man, vrou en hul nege-maande-oue seuntjie in Barberton Vrydagaand.
Volgens die polisie het ‘n groep gewapende aanvallers hul huis bestorm, hulle van kontant en huishoudelike items beroof en in hul bakkie in forseer.
Toe polisie op patrollie die voertuig probeer voorkeer het, het van die insittendes skote op die polisie gevuur, waarna beamptes teruggeskiet het.
Een van die verdagtes is noodlottig gewond.
Die bestuurder is in hegtenis geneem.
Die verdagte word aangekla van huisroof, ontvoering, poging tot moord en besit van ‘n ongelisensieërde wapen en ammunisie.
Nog drie verdagtes kon vlug en word gesoek.
Die gesin is ongedeerd.
Die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek die voorval.
Drie vermeende onwettige mynwerkers verskyn ook vandag in dieselfde hof na hulle Saterdag tydens ‘n ontwrigtende operasie by Kakhalem naby Barberton aangekeer is.
Volgens die polisiewoordvoerder, brig. Donald Mdhluli, was dit deel van Operasie Vala Umgodi.
Hulle was na bewering in besit van ‘n onwettige rewolwer met 404 rondes ammunisie sowel as onwettige myntoersuting en gouddraende materiaal.
Sien ook: Tienerswangerskappe: Optrede nodig