Twee regspraktisyns aangekeer weens R14m

Die Valke in Mpumalanga het twee regspraktisyns in Malalane in hegtenis geneem vir bedrog, diefstal en geldwassery wat verband hou met ’n sakebedrogspul van R14 miljoen.

Die arrestasies volg op ’n ondersoek na bewerings dat ’n 40-jarige prokureur ’n sakeman in 2021 bedrieg het onder die voorwendsel dat sy die verkoop van ’n sakeperseel in Nelspruit sou fasiliteer.

Die fondse is na bewering oorgeplaas na die rekening van haar 73-jarige skoonpa, wat ook ’n prokureur is, om die opbrengs te verberg.

Hulle sal na verwagting in die Nelspruit-landdroshof verskyn sodra alle administratiewe prosesse vir vervolgingsprosedures voltooi is.

Volgens die Valke is die vrou voorheen gearresteer weens soortgelyke, onverwante sake.

Intussen het die Regspraktykraad regsverteenwoordiging aangestel om die vertraagde skrapping-saak teen haar weer aan die gang te kry en weer op die rol te plaas.

Die raad sê vertragings is veroorsaak deur uitstaande hofstukke.

Sy is in 2024 geskors na sy skuldig bevind is aan wangedrag.