Die Mpumalanga Departement van Onderwys het skole in Bosbokrand-munisipaliteit gesluit, weens gure weerstoestande.
Dit reёn reeds sedert Saterdag met ‘n oranje vlak 9-waarskuwing vir ontwrigtende reёn wat vandag steeds in plek bly.
Volgens ‘n woordvoerder van die departement, Gerald Sambo, het baie leerders en onderwysers gister met die begin van die nuwe skooljaar gesukkel om hul skole te bereik as gevolg van oorstroomde paaie.
Die sluiting sal vandag en môre geld.
In Ehlanzeni-distrik mag skoolhoofde hul diskresie gebruik.
Luister:
Ook in Limpopo sê die regering leerderveiligheid bly ‘n topprioriteit terwyl oorstromings skoolonderrig in dele van die provinsie ontwrig.
Die Departement van Basiese Onderwys werk saam met die provinsiale onderwysdepartement om skade aan skole te bepaal en te verseker dat leerders en onderwysers nie in gevaar is nie.
Die nasionale padagentskap, Sanral, het ook sommige paaie in Limpopo gesluit. Dit is die R527 in Hoedspruit, en die R578-suid tussen Phalaborwa en Giyani.
In die Krugerwildtuin beveel SANParke aan dat besoekers die Paul Kruger-hek gebruik vir toegang tot Skukuza, aangesien riviervlakke in Limpopo en Mpumalanga styg.
Die Pafuri- en Punda Maria-hekke bly gesluit.
Daar is ook geen toegang tussen Skukuza na Onder-Sabie, Krokodilbrug, Tshokwane of Satara nie, met paaie wat oorstroom is.
Die woordvoerder van SANParke, JP Louw, moedig besoekers aan om die voorgestelde hekke te gebruik en opdaterings te monitor vir veilige toegang.
Luister:
Phabeni-hek is tans steeds oop.
Toegang tot Malelane-satelietkamp en Berg en Dal-ruskamp is via Malelane-hek.
Toegang tot Krokodilbrug-ruskamp en Onder Sabie is via die Krokodilbrug-hek.
Toegang tot Orpen- en Satara-ruskamp is via Orpen-hek.
Toegang tot Olifants-, Letaba- en Mopani-ruskampe is via Phalaborwa- of Orpen-hekke.




