100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Opdatering: Saak teen 3 wat glo moor tot Aug uitgestel

Written by on July 3, 2024

Twee verdagtes het vandag in die Kanyamazane-hof verskyn vir die moord op Bonisiwe Mabuza, ‘n vrou van Pienaar wat amper ‘n week vermis was voor haar liggaam in ‘n vlak graf in ‘n begraafplaas ontdek is.

Marvellous Tshepo Madonsela en Mbuyiseni Isaac Sikhiti word ook aangekla van ontvoering en huisroof.

‘n Derde beskuldigde, Petunia Mhlanga, het gister in die hof verskyn en is borgtog van R500 toegestaan.

Die saak is uitgestel tot 14 Augustus wanneer hulle saam in die hof sal verskyn.

Madonsela en Sikhiti bly in aanhouding.

Drie vas na vrou vermoor gevind is, 2 Julie 11:09

Die liggaam van ‘n vrou wat sedert verlede week in Pienaar buite Mbombela vermis word, is gister in ‘n vlak graf in Luphisa-begraafplaas ontdek.

Bonisiwe Mabuza (37) se VW Polo is Dinsdagaand, na sy deur haar familie as vermis aangemeld is, verlate gevind in ‘n afgeleë area in Pienaar.

Haar familie het verskeie kere probeer om haar telefonies te bereik, maar sonder sukses. Hulle kon haar ook nie by haar woonplek opspoor nie.

Volgens die polisie is al die wiele van haar voertuig verwyder, sowel as ‘n kantspieël en die agtersitplek.

Verskeie items is ook uit haar huis gesteel, insluitend ‘n televisiestel en ‘n yskas.

Die polisie het ‘n man en vrou die naweek ondervra, wat tot die ontdekking van haar liggaam gelei het sowel as die terugvind van sommige van die items wat die polisie glo uit haar huis gesteel is.

‘n Derde verdagte het homself gister aan die polisie oorgegee.

Hulle verskyn môre in die Kanyamazane-hof op aanklagte van moord, ontvoering en huisroof.

Nog klagtes kan bygevoeg word soos die ondersoek vorder.

Sien ook: Man vasgetrek met R4,2m se dwelms by Lebombo


×