Premier bekommerd oor impak van Mosambiekse onlus
Written by Mireille on December 11, 2024
Die premier van Mpumalanga, Mandla Ndlovu, sê die provinsie se ligging, aangrensend met Mosambiek en Eswatini, is voordelig en nadelig vir sy ekonomie.
Hy het president Cyril Ramaphosa gister tydens ‘n bilaterale vergadering tussen ander ministers en die provinsiale uitvoerende gesag gevra om die voortslepende betogings in Mosambiek, weens ‘n bestrede verkiesingsuitslag, met president Filipe Nyusi op te neem, omdat die provinsie ook daaronder ly.
Politieke onluste het uitgebreek na die regerende Frelimo weer as die wenner van die verkiesing in Oktober aangekondig is.
Die Grensbestuursowerheid het bedrywighede by Lebombo-grenspos gisteroggend weer tydelik opgeskort.
Sien ook: Bedrywighede by Lebombo weer opgeskort
Ndlovu sê die verhoogde spanning in Mosambiek het ‘n negatiewe uitwerking op die provinsie se ekonomie met die betogings oor verkiesingsgeskille wat verkeer en handel langs die Maputo-deurgang ontwrig.
Volgens Ndlovu dra Mpumalanga die swaarste aan die las van onwettige en ongedokumenteerde immigrante met talle negatiewe gevolge wat insluit oorgrensmisdaad, ‘n toename in misdaad in plaaslike gemeenskappe en onwettige mynbou.
Luister:
Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het intussen aanbeveel dat die vervoer van swaar vrag na Mosambiek opgeskort word.
Die Internasionale Oorgrenshandelaarsvereniging waarsku ook oor ekonomiese sabotasie.
Dennis Juru van die vereniging sê vrag en toerisme word ontwrig. Hy versoek die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap om in te gryp deur dialoog.
Luister: ENG-JuruOnMozambique
Reisigers word aangeraai om eerder gebruik te maak van die Mananga-grenspos in Eswatini.
*Foto: TRACN4