Twee verdagtes is in Masoyi in hegtenis geneem in verband met ‘n vuurwapen wat vermis geraak het ná ‘n skietvoorval by ‘n taverne Woensdagaand.
Die polisie het ‘n moordsaak en ‘n geregtelike doodsondersoek geopen na ‘n platejoggie op Oukersaand by ‘n taverne in Mganduzweni Trust in Masoyi naby Witrivier doodgeskiet is.
Volgens die Mpumalanga polisie het ‘n argument ontstaan na die platejoggie, Mdu Ngoma (33), ophou speel het en sy toerusting opgepak het omdat die taverne vir die aand sou sluit.

Een van die klante, Swarelo Sibiya (28), het hom toe geskiet voor hy die vuurwapen op homself gerig het.
Beide mans is op die toneel dood verklaar.

Die vuurwapen het van die toneel verdwyn.
Dit is gister herwin.
Die twee verdagtes is in Masoyi aangekeer.
Die een verdagte sal aangekla word weens regsverydeling en die ander weens die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.





