Die Gauteng Hooggeregshof in Pretoria het die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap (MTPA) en Kommissie vir die Herstel van Grondregte in Mpumalanga beveel om Fred Daniel R306 miljoen in skadevergoeding te betaal.
News24 berig hy het in die laat 1990’s probeer om ‘n bewaringsgebied in Mpumalanga te stig. Die Cradle of Life Nkomazi Wilderness sou ‘n natuurreservaat en toerisme-fasiliteite hê.
Hy het deur sy maatskappy Grand Valley Estates grond begin koop in die Badplaas-area, maar grondeise en dreigemente deur die Mpumalanga regering – met die ondersteuning van David Mabuza – het Daniel van die grond af gedwing.
Mabuza was in verskeie posisies in die provinsiale regering voor hy in 2009 premier geword het.
Sowat 15 jaar gelede het Daniel die MTPA en die komissie vir R1,4 miljard gedagvaar.
In die hofuitspraak gister is bevind die MTPA, kommissie, polisie, Mabuza en ten minste nog een politikus, Pro Khoza, het teen Daniel saamgewerk.
Pieter Visage, van die kommissie, het aangebied om die grond teen drie keer sy waarde by Daniel te koop om dit teen ‘n nog hoër prys aan die regering terug te verkoop. Hy is gedreig dat grondeise teen die eiendomme ingestel sal word om hom te dwing om dit te verkoop.
Op twee geleenthede, in 2005 en 2008, is groepe mense per bus na sy eiendom aangery om te betoog. ‘n Polisiebeampte het getuig dat die polisie instruksie gegee is om weg te bly. Mabuza het by die toneel opgedaag en die mense kalmeer.
Daarna is geweld en brandstigting sporadies teen Daniel se eiendom en werknemers gepleeg. Hy voer ook aan dat verskeie regeringsdepartemente hom geteister het.
Mabuza het hom glo in Augustus 2008 meegedeel dat hy hom slegs kon beskerm as hy die grond sou verkoop aan Ndwandwa Trust – een van die entiteite wat deur Visage geïdentifiseer is om die grondeis-bedrogspul uit te voer.
Die MTPA het in 2007 en 2008 ook klopjagte op sy eiendom uitgevoer en diere verwyder, waarvoor die hof geen wetlike regverdiging kon vind nie.
Die hof het verder bevind dat MTPA-beamptes wat daaraan meegedoen het van Daniel wou ontslae raak omdat hy hul gebruik – om onwettig wins te genereer deur die oordrag van grond in die distrik na die kommissie – bedreig het.
Die regter het bevind Daniel het suksesvol bewys dat die MTPA, kommissie en Mpumalanga regering teen hom saamgespan het.