Man gevonnis wat Eskom bedrieg
Written by Mireille on March 2, 2023
‘n Man wat in November 2013 R2,6 miljoen by Eskom gesteel het, is gister in die hof vir gespesialiseerde kommersiële misdaad in Nelspruit gevonnis vir bedrog, diefstal en geldwassery.
Micheal Chimanzi en Chimanzi Investments het vervalste fakture aan Eskom gelewer vir dienste wat nooit gelewer is nie.
Hy is sedert sy arrestasie in 2018 in aanhouding.
Die hof het bevind hy het berou getoon, dadelik skuldig gepleit en reeds vier jaar uitgedien.
Die agt jaar tronkstraf wat hy opgelê is, is daarom vir vyf jaar opgeskort.
Sy medebeskuldigdes, Nwabisa Ngxola en Cinderella Moropane, beide voormalige werknemers van die kragnutsmaatskappy, word op 2 Mei gevonnis.