Lewenslank vir man wat sy ouma vermoor
Written by Mireille on January 23, 2025
Jay Peters (27) is deur die Nelspruit-streekhof lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op sy ouma, Susanna Kilmister (68).
Dit volg op Peters sy skulderkenning op die moord wat op 28 Februarie 2022 op Cromdale buite Mbombela gepleeg is, waar hy by sy ouma gewoon het.
Volgens Monica Nyuswa, die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het ‘n hewige rusie tussen Peters en sy ouma tot ‘n gewelddadige aanranding geëskaleer wat tot haar dood gelei het.
Peters is dieselfde dag in hegtenis geneem en is in aanhouding sedert hy sy borgtogaansoek laat vaar het.
Tydens die verhoor het die verdediging ‘n evaluering van hom aangevra, en daar is bevind hy was geskik om verhoor te word.
Nyuswa sê Peters het aanvanklik geen berou getoon nie, maar het later skuldig gepleit.
Luister:
Skhumbuzo Nkosi, die staatsaanklaer, het die wydverspreide voorkoms van gesinsgeweld in Suid-Afrika beklemtoon en gevra vir ‘n streng vonnis om potensiële oortreders af te skrik.
Ter verswaring van vonnis het die beskuldigde se pa ook hartverskeurende getuienis gelewer oor die emosionele en verwoestende impak wat die misdaad op die gesin gehad het.
Hy het ook onthul dat die oorledene baie lief was vir haar kleinseun, wat die misdaad nog meer tragies gemaak het.
Die hof het Peters uiteindelik tot lewenslange tronkstraf gevonnis en hom onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Sien ook: Menslike oorskot in Tjakastad ontdek