Innibos 2025 vier alles lekker in hart van Laeveld
Written by Mireille on April 29, 2025
Dit is weer tyd om álles lekker by Innibos te vier vanaf 3 tot 6 Julie.
Die fees vier vanjaar Afrikaans se 100-jarige taalviering en Innibos se 21ste bestaansjaar.
Die tema vanjaar is bloot “Lekker”.
Vanjaar word Kurt Darren by die Toyota Innibos-fees vereer vir sy jarelange bydrae tot die Afrikaanse musiekwêreld.
“Sy stem en liedjies is verweef met vele van ons herinneringe – van sokkiesale tot stadionkonserte,” sê Sandra Jacobs, die bemarkingsdirekteur.
Die hoofverhoog gaan elke aand uitsonderlik wees. Die Huisgenoot Afskopkonsert die Donderdag sluit in name soos Appel, Droomsindroom, Eloff en Francois van Coke.
Die Vrydag neem Jacaranda FM die leisels oor met kunstenaars soos Bernice West, Bok van Blerk, Die Heuwels Fantasties en Robbie Wessels.
Saterdag se kykNET-konsert gaan (soos altyd) ‘n spogvertoning wees met Corlea Botha, Early B, Justin Vega, Elvis Blue, Demi-Lee Moore en die immer gewilde Piesangskille wat die verhoog gaan oorneem.
Elders op die feesterrein is dit spesiaal dat stalletjies in die Bosmôl daagliks vir 21 minute (om 11:00 en 16:00) spesiale pryse gaan aanbied – ter viering van die fees se 21ste verjaarsdag.
By die Laevelder Boma-kuierteater wag vertonings met persoonlikhede wat insluit Wynand van Vollenstee, Mel die Storieverteller, Matie van Graan en Hannon wat stories, vertellings en grappe in ware Innibos-styl deel.
Die keuse van toneelproduksies is vanjaar ook besonders en belowend.
Volgens Philna Scholtz, programbestuurder, kan teaterliefhebbers uitsien na verskeie debuut-produksies: Seun met Wilhelm van der Walt, Kry vir jou ’n tux, Thomas met Dean-John Smith en Marion Holm en Geagte Kampeerder met Wynand van Vollenstee en Thiart Li.
Ander moet-sien produksies is Speelgoed van Glas met die ikoniese Anna-Mart van der Merwe en Moord met ’n T waarin die legendariese Tobie Cronje te sien is.
Ook die musiekaanboed is indrukwekkend: Daar is Opera – Tango met Zanne Stapelberg; Gé Sing: Hoor my Lied met André Schwartz, Louis Loock, Stephanie Baartman en Arina de Witt; en Die Beste Band in die Wêreld Ooit, Ek Sweer, met Rikus de Beer, Ryno Velvet en Regardt Scheepers.
Een van die grootste gunstelinge onder feesgangers is sonder twyfel die ATKV-Boekecrawl. Daar is ook ‘n leefstyl-aanbod wat die lekkergeit van die Laeveld weerspiel.
Reuben Mpangane is as die feeskunstenaar vir 2025 aangekondig. Sy kleurvolle en ryk getekstureerde kunswerke sal by White River Gallery in Caterbridge uitgestal word. Dana Macfarlane is die kurator van die twee kunsuistallings.
Lees meer in die volledige feesprogram by www.innibos.co.za en kom beleef die lekkerness van Toyota Innibos 2025 – waar taal, kultuur en samesyn mekaar ontmoet.