Die Kaapsehoop gemeenskap is in geskokte rou na die skielike dood van Rudi du Plessis gister op 56-jarige ouderdom.
Hy is beskryf as ‘n Laeveld legende.
Die skrywer Dana Snyman beskryf hom in ‘n huldeblyk op Facebook as “maklik Kaapsche Hoop se bekendste inwoner”.

“Min mense het die bergpaadjies en die omgewing se geskiedenis beter as jy geken.”
Hy voeg by dat dit moontlik ‘n hartaanval was.
Laevelder berig Du Plessis het in 1993 algeheel sesde geëindig in die Comrades-marathon in ‘n tyd van 05:52;21.

Die voormalige Comrades-wenner, Nick Bester, onthou hoe hulle saam geoefen het voor sy goue medalje.
Die eienaar van Nagkantoor in Kaapsehoop, De Wet Potgieter, het ‘n foto van hulle saam geplaas met die byskrif: “Dit is hoe ek jou altyd sal onthou. Altyd vriendelik, gasvry en tyd vir ‘n grappie. My lewe gaan leeg wees sonder jou.”
Die reis- en avontuurjoernalis, Mia Louw, skryf sy ken hom sedert hy haar onderwyser by Laerskool Laeveld was.
Later was hy haar ‘go to’ as sy inligting oor Kaapsehoop gesoek het.
“Dit is hoe ek hom sal onthou: iemand wat jou lus vir die natuur en avontuur aan die brand kon steek. Van ons gesprekke oor die staproetes om Kaapsehoop – wat hy vir talle jare uitgelê en onderhou het – tot sy besigheid Kaapsehoop Scootours, waar jy op ‘n skopfiets bergaf kon jaag.
“Kaapsehoop gaan net nie dieselfde wees nie,” sluit sy af.