EFF wil Krugerwildtuin se naam verander

Die EFF wil die Krugerwildtuin die Skukuza Nasionale Park herdoop.

Die DA noem die EFF se mosie, wat Dinsdag deur die Mpumalanga-wetgewer aanvaar is, om die Krugerwildtuin se naam te verander, politiekery deur ‘n party wat niks het om kiesers te bied nie, en bloot rassespanning aanhits.

Die EFF-lid, Rhulani Qhibi, het voorgestel dat dit na die Skukuza Nasionale Park hernoem word, dat die naam van die Kruger-Mpumalanga Internasionale (KMI)-lughawe na die DD Mabuza-lughawe verander word, en ook dat die Johan van Riebeeck-stadion in eMalahleni se naam verander word. 

Willie Aucamp van die DA sê die wetgewer is nie by magte om die wildtuin se naam te verander nie, omdat dit aan SANParke behoort en daarom onder die nasionale departement van bosbou, visserye en die omgewing val.

Luister hier:

Die naamsverandering van ‘n nasionale park vereis ‘n formele aansoek by die provinsiale geografiese namekomitee met geldige regverdiging.

Dit moet gevolg word deur ‘n openbaredeelnameproses. Enige aanbevelings moet dan deur die geografiese nameraad goedgekeur word.

Die minister van sport, kuns en kultuur moet dit dan goedkeur en dan word dit in die Staatskoerant gepubliseer.