Drie mense is vroeg vanoggend dood toe ‘n vragmotor en minibus-taxi trompop gebots het op die R38 tussen Barberton en Manzana.
Volgens die Mpumalanga Departement van Gemeenskapsveiligheid sluit die slagoffers twee passasiers en die taxi-bestuurder in.
Die vragmotorbestuurder het geringe beserings opgedoen.
Die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk is onderweg, maar die departement sê roekelose bestuur kan nie uitgesluit word nie.
Drie gevalle van strafbare manslag word ook ondersoek.
Drie mense is ook Vrydagoggend oorlede toe twee bakkies op die N4 naby Middelburg-dam gebots het (foto).
Die een bestuurder het na vermoede beheer verloor en in aankomende verkeer ingery.
‘n Manlike bestuurder, ‘n vrou, en ‘n jong seun is dood.
Twee jong meisies is ernstig beseer.
Die ander manlike bestuurder, sowel as ‘n vrou en jong seun, het geringe beserings opgedoen.
Die LUR, Jackie Macie, het sy medelye met die families betuig.




