Meer as 30 verdagtes verskyn vandag in die landdroshof in Mbombela weens beweerde bedrog en korrupsie van R113 miljoen.
In totaal is 27 verdagtes, insluitend regeringsamptenare, gister aangekeer.
Teen vanoggend was dié aantal 33.
Volgens die Mpumalanga Valke het die provinsiale onderwysdepartement in 2019 en 2020 noodsaaklike instandhoudingswerk by 21 skole gelas, maar min werk is verrig teen buitensporige kostes en sonder om die nodige verkrygingsprosesse te volg.
Die Forum for South Africa se Tebogo Mashilompane waarsku teen roetine-borgtog in ernstige korrupsiesake.
Luister:
27 vasgetrek weens beweerde bedrog in Onderwysdepartement, 23 Februarie
Die Valke het 27 verdagtes gearresteer in verband met beweerde tenderbedrog en korrupsie van R113 miljoen wat met die Mpumalanga Onderwysdepartement verband hou.
Die verdagtes sluit nege staatsamptenare, 14 diensverskaffers en vier privaat persone in.
Die Valke het gister ʼn gekoördineerde teenkorrupsie-operasie uitgevoer in Mpumalanga, Gauteng, Limpopo en die Wes-Kaap.
Die provinsiale Valke-hoof, Nico Gerber, sê die operasie het altesaam 41 geïdentifiseerde verdagtes in die visier.
Luister:
In totaal is 21 mense in Mpumalanga gearresteer, vier in Gauteng, een in Limpopo en een in die Wes-Kaap.
Daar word beweer dat die verdagtes onwettig voordeel getrek het deur opgeblase kontrakte en betalings, substandaard dienste, en in sommige gevalle dienste wat nooit gelewer is nie, en dat hulle daardeur veral leerders van kritieke hulpbronne beroof het.
Die Departement van Onderwys het kennis geneem van die verwikkelinge.
“Aangesien die saak nou voor die howe is, respekteer die departement die geregtelike proses en beskou die saak as sub judice,” sê hy in ‘n verklaring.
“Die Departement sal dus van kommentaar op die meriete van die saak op hierdie stadium weerhou, terwyl dit alle ontwikkelings noulettend monitor.”
Die verdagtes sal na verwagting vandag in die hof verskyn.





