Chapo as Mosambiek president ingesweer te midde van dodelike betogings
Written by Mireille on January 15, 2025
Die nuwe Mosambiekse president, Daniel Chapo van Frelimo, is vandag ingehuldig te midde van onrus oor betwiste verkiesingsuitslae.
Die 210 nuutverkose parlementslede het Maandag in die parlement byeengekom vir hul beëdiging.
Die hoof opposisieleier, Podemos se Venancio Mondlane, het twee maande in die buiteland geskuil, glo uit vrees vir sy lewe, na die verkiesing op 9 Oktober.
Frelimo, wat die land al bykans 50 jaar sedert die einde van sy burgeroorlog regeer, is as die wenner verklaar, verwyl die Europese Unie gewys het op wydverspreide ongerymdhede.
Die verkiesingsuitslag het tot gewelddadige betogings gelei weens verskeie opposisiepartye wat weier om die uitslag te aanvaar.
Dit het vervoer en reis tussen die twee lande hewig ontwrig, met die Lebombo-grenspos by Komatipoort wat sporadies gesluit is.
Meer as 260 mense is reeds in die geweld dood.
Mondlane het ‘n beroep op massabetogings gedoen en beweer die verkiesing is gemanipuleer.
In Desember het die land se Konstitusionele Raad wel Frelimo se oorwinning bekragtig.
President Cyril Ramaphosa en die Guinee-Bissau-president, Umaro Sissoco Embaló, was vandag die enigste staatshoofde teenwoordig.
Hy is vergesel deur die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, en die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni.
Build One South Africa sê Ramaphosa se bywoning dra ‘n gevaarlike boodskap oor rakende Suid-Afrika se standpunt oor demokrasie.
BOSA se woordvoerder, Roger Solomons waarsku hierdie optrede hou die gevaar in om die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap-streek te destabiliseer en demokratiese waardes te verbrokkel:
Luister:
Die Presidensie sê in ‘n verklaring die geleentheid is ‘n stap in die rigting van vrede en ontwikkeling in Mosambiek.
Ramaphosa het sy verbintenis uitgespreek om bilaterale betrekkinge te versterk en eenheid onder Mosambiekers te ondersteun.
Chapo sal na verwagting vandeesweek sy nuwe regering aankondig.
Hy het stabiliteit belowe.
Sien ook: Nog ’n verdagte vas na massamoord in Pienaar – Radio Laeveld