SANParke paraat vir stropers die feestyd
Written by Mireille on December 6, 2024
SANParke sê daar was onlangs ‘n toename in stropery in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW).
Die woordvoerder, Ike Phaahla, sê die stel van strikke en vergiftiging van diere het veral toegeneem.
“Strikke is werklik die gruwelikste misdaad, want dit veroorsaak ‘n stadige en pynlike dood.”
Die SANParke Ereveldwagters help daarmee en het die afgelope drie maande sowat 1 000 strikke verwyder.
In reaksie sal SANParke toesig by toegangshekke die feestyd verhoog.
Hul misdaadvoorkomingsinisiatief sluit ook in die nagaan van voertuie in die park, die gebruik van tegnologie soos nommerplaat herkenning en radar, die verhoogde inspanning van honde-eenhede en ‘n toename in patrollies deur veldwagters.
Phaahla sê hulle werk nou saam met ander agentskappe, ook rondom die wildtuin, sowel as plaaslike gemeenskappe wat aangrensend aan die NKW woon.
Luister:
Volgens hom het hul samewerking met Mosambiekse owerhede ook positiewe resultate gelewer met stropers wat gearresteer is.
Phaahla raai besoekers aan die wildtuin aan om bedag te wees op hul eie veiligheid hierdie vakansie.