100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

100.5FM Nuus

3 September

15:00

# Polisieman in hof wat glo vrou doodskiet

# Suid-Afrikaanse ekonomie groei met 0,4% in tweede kwartaal van 2024

# Krieket: 15 vroue word ingesluit in SA groep vir Wêreldbekertoernooi, T20’s teen Pakistan

# ‘n 39-jarige polisiesersant verskyn vandag in die Emalahleni-landdroshof op ‘n klag dat hy sy vrou vroeg Sondagoggend in Witbank doodgeskiet het. Elsie Mothali was 37-jaar oud. Sy is na bewering verskeie kere geskiet terwyl sy bestuur het. Dit het ‘n botsing veroorsaak. Die man het homself aan die polisie oorhandig. Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, Generaal-majoor Zeph Mkhwanazi, het die voorval ten sterkste veroordeel. Die woordvoerder, Kolonel Donald Mdhluli: KLANK:

# Die Suid-Afrikaanse ekonomie het in die tweede kwartaal met 0,4-persent gegroei, na geen groei in die eerste kwartaal nie. Die finansies-, eiendom- en sakedienstebedrywe het met 1,3-persent gegroei, gevolg deur die handel-, gasvryheids- en verblyf-sektore wat groei van 1,2-persent getoon het. Die vervaardigingsbedryf het met 1,1-persent verbeter, en die krag-, gas- en waterbedrywe met 3,1-persent. Dit was grootliks te danke aan ‘n styging in kragverskaffing en -verbruik, asook waterverbruik. Die vervoer-, bergings- en kommunikasiebedrywe asook landbou, bosbou en visserye het met meer as 2-persent gedaal.

# Die Activists and Citizens Forum sê die polisie het die stryd teen dwelmkartelle in die land verloor en dit word nou aan alle Suid-Afrikaners oorgelaat om die krisis hok te slaan. Die woordvoerder van die Forum, Dennis Bloem, vra gemeenskappe om alles moontlik te doen en straatkomitees te vorm om toekomstige generasies te beskerm: KLANK: ENG DennisonDrug

# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika wil graag leer uit Shenzhen se vinnige ekonomiese ontwikkeling en sukses in die digitale en groen ekonomie. Hy het by ‘n sakeberaad in China gepraat en benadruk hoe die stad se transformasie in ‘n globale tegnologiespilpunt, Suid-Afrika se groeiplanne geïnspireer het. Ramaphosa sy hy is geïnteresseerd om te leer uit Shenzhen se sukses in infrastruktuur- en vaardigheidsontwikkeling, veral deur groen energie en digitale vooruitgang. Hy het Shenzhen-maatskappye genooi om in Suid-Afrika se hernubare energie-, gevorderde vervaardigings- en elektriese voertuigsektore te belê.

# Krieket: ‘n Groep van 15 vroue is aangekondig vir die T20-Wêreldbekertoernooi en ‘n reeks teen Pakistan. Kaptein Laura Wolvaardt het die steun van ervare spelers soos Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka, Suné Luus en Chloé Tryon, terwyl die Dolphins se bybreek-bouler, Seshnie Naidu, haar debuut sal maak. Die Proteas en Pakistan speel later die maand drie T20’s, en die Wêreldbekertoernooi begin op 3 Oktober in die Verenigde Arabiese Emirtae. Suid-Afrika speel in Groep B teen Engeland, Skotland, Bangladesj en die Windies.

# Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-32-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-499-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-53-sent per vat.

================

16:00

# Mpumalanga begin veldtog teen malaria

# 60% van Afrika se jeug wil weens korrupsie emigreer

# Rugby: Daan Human sê All Blacks se skrums is een van die beste in die sport

# Die Mpumalanga Departement van Gesondheid sal Donderdag sy binnenshuise bespuitingsveldtog vir huishoudings in endemiese malariagebiede van stapel stuur. Dit is daarop gemik om gemeenskappe te beskerm wat die risiko loop om die gevaarlike, maar voorkombare, siekte op te doen en om uitbrake te voorkom. Die LUR vir Gesondheid, Sasekani Manzini, sal 400 malaria-spuitoperateurs verwelkom wat die veldtog sal voer. Die bekendstelling vind by die Naas-gemeenskapsaal in Nkomazi-munisipaliteit plaas.

# Geskorste staatsamptenare gaan nie langer teen volle betaling tuisbly nie. Die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Mzamo Buthelezi, sê pleks daarvan sal hulle na ander departemente of eenhede oorgeplaas word om hulle vaardighede in te span terwyl ondersoeke voortduur. Die nuwe riglyn is daarop gemik om spoedige dissiplinêre verhore te verseker en verlengde skorsings te verminder. Volgens die minister is die besluit deel van breër pogings om korrupsie te bekamp, met 53-persent van lank agterstallige skorsingsake wat in sekere departemente opgelos is: KLANK: ENG ButheleziOnNewPolicy

# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, beklemtoon die behoefte aan ‘n volgehoue lae inflasiekoers om ‘n verandering in monitêre beleid te regverdig. Die inflasiekoers van vier-komma-ses-persent in Julie, die laagste in drie jaar, het bespiegeling oor ‘n verlaging in rentekoerse laat opvlam. Maar Kganyago waarsku hoewel laer inflasie positief is, wil die Reserwebank volgehoue lae inflasie hê voor hy rentekoerse sal verlaag. Die bank se sleutel rentekoers is sedert Mei 2023 onveranderd op agt-komma-25-persent.

# Sestig-persent van Afrika se jeug dink daaraan om hulle lande van oorsprong te verlaat want ongebreidelde korrupsie bedreig hulle toekoms. Dit blyk uit ‘n peiling van meer as 5-duisend-600 jeugdiges in 16 lande. Korrupsie word beskou as die enkel grootste hindernis waarmee hulle te doen het om hulle potensiaal te bereik en ‘n beter lewe te hê. Die Ichikowitz-familiestigting in Johannesburg het die peiling onder mense tussen 18 en 24 gedoen. Die 2024 Afrika-jeugpeiling is deur een-tot-een onderhoude in Januarie en Februarie gedoen in lande wat strek van Suid-Afrika tot Ethiopië.

# Rugby: Die Springbokke se skrumafrigter, Daan Human, sê die All Blacks se skrumwerk is van die beste in die spel. Die Bokke het die skrums oorheers in hulle eerste twee Rugbykampioenskapstoetse teen Australië, maar was nie so sterk teen Nieu-Zeeland nie. Suid-Afrika het wel daarin geslaag om later in die wedstryd teen die All Blacks op Ellispark ‘n paar skrum-strafskoppe af te dwing, maar Human sê daar is ruimte vir verbetering onder die pak voorspelers: KLANK: AFR Daan Human

# Die rand verhandel teen 17-rand 92-sent teen die dollar, 19-rand 80-sent teen die euro en 23-rand 54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-137-dollar 04-sent. Die prys van goud is twee-duisend-493-dollar 41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar 10-sent per vat.

================

17:00

# Grootste hibriede energie-aanleg in SA vanaf 2025 operasioneel in Mpumalanga

# ActionSA dien klagtes in teen EFF en MK oor befondsing-teenstrydighede

# Minstens 129 mense sterf in tronk-ontsnapping in die DRK

# Die Mpumalanga premier, Mandla Ndlovu, besoek Donderdag ‘n windenergie-opwekkingsfasiliteit in Bethal. Die Ummbila Emoyeni-projek is die eerste in die provinsie en die grootste hibriede energie-aanleg in Suid-Afrika. Die windplaas sal mynbedrywighede en Eskom voorsien van krag wat deur windturbines opgewek word en sal na verwagting vanaf 2025 ten volle kommersieel bedryf word.

# ActionSA het klagtes by die Verkiesingskommissie ingedien teen die EFF en MK-party oor aansienlike befondsing-teenstrydighede in hulle befondsingsverklarings. Die party beweer die EFF se verklaarde 3,5-miljoen-rand in befondsing stem nie ooreen met sy hoë besteding tydens die onlangse verkiesing nie, terwyl MK se verklaring as onvoldoende beskou word gegewe sy uitgebreide veldtog-uitgawes. Die nasionale voorsitter van ActionSA, Micheal Beaumont moedig die OVK aan om hierdie teenstrydighede te ondersoek om deursigtigheid en voldoening aan die Wet op Partybefondsing te verseker: KLANK: ENG BeaumontOnComplaints

# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Thembi Simelane, sal na verwagting Vrydag voor die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling verskyn. Dit volg op bewerings dat sy tydens haar termyn as burgemeester van Polokwane in Limpopo 500-duisend-rand as ʼn lening ontvang het van ʼn persoon met noue bande met die VBS-bank. Die komitee se voorsitter, Xola Nqola, sê hierdie soort bewerings is skadelik vir die beeld wat Suid-Afrika wil voorhou as ʼn land wat homself probeer bevry van enige vorm van korrupsie.

# Nuus uit die buiteland: Minstens 129 mense is dood na ‘n ontsnappingspoging uit die grootste tronk in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die land se minister van Binnelandse Sake, Jacquemain Shabani, sê dit sluit 24 mense in wat geskiet is na waarskuwings. Minstens 59 is beseer in die Makala-tronk in die hoofstad, Kinshasa. Sy ministerie sê verskeie mense is vertrap of het versmoor en ‘n aantal vroue is verkrag.

# Sport: KLANK:

# Die rand verhandel teen 17-rand 92-sent teen die dollar, 19-rand 80-sent teen die euro en 23-rand 54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-137-dollar 04-sent. Die prys van goud is twee-duisend-493-dollar 41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar 10-sent per vat.


×